‘n Blywende Vreugde

Hierdie boek is al elders ook bespreek, maar ek sal voel asof ek iets onvoltooids laat as ek nie my eie opinie van die boek neerpen nie. Alhoewel ek jare terug heelwat van Audrey se vroeëre bundels gelees het, sal ek moet jok as ek sê ek onthou wanneer laas ek iets van haar gelees het. Ek onthou wel dat ek haar skrywes altyd heluit geniet het, maar dié onthou het eers weer teruggekom toe ek nou hierdie briewebundel van haar begin lees.
 
Ek het al op ver en vreemde paaie gedwaal met my lesery. Daar is al van my gesê dat ek alles lees waarop ek my hande lê, tot die etikette om blikkieskos! Dis nie te ver van die waarheid nie en omdat ek so alles lees, lees ek soms ook swakker boeke, maar ek het hierdie leesdrif in my wat sal maak dat ek selfs ‘n swak boek probeer klaar lees, eerder as om nie te weet hoe eindig die storie nie.
 
Toe ek met Audrey se boek in my hand staan in die biblioteek, het ek gewonder of ek regtig lus het om iemand se briewe te lees, maar onverklaarbaar kon ek dit ook nie terugsit op die rak nie. En van die eerste woord af was ek vasgevang en kon ek nie ophou lees nie. Dis vir my eintlik jammer dat die briewe nie kon aanhou tot 2008 nie.
 
Ek kon nie wag om te lees hoe Audrey die nuwe Suid-Afrika en sy skrywers ervaar het nie en ek is eintlik half teleurgesteld dat daar nie meer van haar briewe is waar sy daaroor skryf nie. Ek het ook lekker gelag toe sy vertel dat sy nie van plan is om ooit ‘n hygroman te lees nie. Dis nogal jammer, ek sou graag haar kommentaar daaroor wou hoor. Toemaar Audrey, ek moet ook nog ‘n hygroman lees!
 
Haar briewe is vir my ‘n rykdom van aanhalings wat ek neergepen het en altyd wil onthou en van boeke wat sy aanbeveel het, wat ek nou wil gaan soek en lees. Sommiges sal seker al uit druk wees, maar ek is seker dat ek deur haar ‘n hele paar gaan ontdek wat ek ook gaan gate uit geniet om te lees.
 
Ek wil graag een van haar aanhalings van Rilke hier neerpen. Dis vir my so pragtig verwoord:
“Gedigte is nie, soos mense dink, eenvoudig emosies nie (‘n mens het vroeg genoeg emosies) – gedigte is ervaringe. Ter wille van ‘n enkele gedig moet ‘n mens baie stede, baie mense en baie dinge sien. Jy moet diere begryp, jy moet voel hoe voëls vlieg, en jy moet die gebaar ken waarmee klein blommetjies in die oggend oopgaan. ‘n Mens moet kan terugdink aan paaie in onbekende streke, aan onverwagte ontmoetings en aan ‘n afskeid wat jy lank tevore sien aankom het. Jy moet dae uit jou kindertyd kan herroep, daar waaroor jy nog nie helderheid het nie, aan jou ouers wat jy moes krenk toe hulle jou tog ‘n plesier wou besorg en jy dit nie begryp het nie. Jy moet kan dink aan dae in stil gedempte vertrekke en aan oggende by die see, aan die see veral, aan oseane, aan nagte op reis wat hoog om jou verrys en saam met die sterre verdwyn, en dit is nog nie genoeg wanneer ‘n mens aan al hierdie dinge dink nie.
 
‘n Mens moet die herinnering hê aan baie liefdesnagte, waarvan nie één soos die ander was nie, aan kermende vroue in barensnood. Maar ook by sterwendes moet ‘n mens gewees het, ‘n mens moet by ‘n dode in ‘n kamer gesit het, in ‘n kamer met ‘n oop raam en die geluide wat in rukkende vlae binnekom.
 
Dit is ook nie genoeg dat ‘n mens die herinneringe het nie. Eers wanneer die herinneringe bloed word in ons, in die uitdrukking van ons oë, nameloos en nie meer te onderskei van onsself nie – eers dán kan dit gebeur dat in ‘n seer seldsame uur die eerste woord van ‘n vers in ons opstaan en van ons uitgaan.”

 
Audrey was ‘n mens met ‘n fyn siel, vir my ‘n regte ouwêreldse dame, met ‘n fyn humorsin en ‘n heerlike onnutsigheid aan haar. Die wat haar geken het, is voorwaar bevoorreg.
 
Vir enigiemand wat die Afrikaanse taal koester en versot is op lees, is Audrey se boeke, en ‘n Blywende Vreugde spesifiek, ‘n absolute noodsaaklikheid om te lees. Ek wil nou weer al haar bundels lees.

5 Responses

  1. In matriek (1972 – sjoe, dis lank terug) was een van ons Afrikaanse voorgeskrewe boeke een van Audrey s’n. Die naam ontgaan my nou (ek verbeel my dit was Die Plesierboom, maar is nie seker nie), maar ek onthou sommige van die essays asof ek hulle gister gelees het. In die boek beskryf sy haar twee broers nogal in groot detail in die twee essays “Die Reuk van Katjiepierings” en “Die Krismisbokkie”. Ek was nie lief vir leer nie, maar hierdie twee essays het ek soveel kere gelees (bloot omdat dit vir my mooi was) dat ek dit geken het asof ek dit self geskryf het. Ons groot vraag vir voorgeskrewe werk in matriek was ‘n vergelyking van die skrywer se twee broers soos ons hulle leer ken het in hierdie twee essays. Sonder veel leerwerk is ek Afrikaans deur met ‘n onderskeiding. Dankie Audrey vir jou wonderlike skryfkuns.:mrgreen:

    Sy was persoonlik bevriend met ons skoolhoof en het vir ons ‘n praatjie in die saal kom gee. Vir ‘n matriekkind van daardie jare was sy toe al net ‘n ou tannie… totdat sy haar mond oopgemaak het. As jy dink sy kon skryf, moes jy haar hoor praat het. Een ding wat ek van daardie dag onthou is haar bloedrooi lippe en rooi wangetjies.

  2. “Dit is ook nie genoeg dat ‘n mens die herinneringe het nie. Eers wanneer die herinneringe bloed word in ons, in die uitdrukking van ons oë, nameloos en nie meer te onderskei van onsself nie – eers dán kan dit gebeur dat in ‘n seer seldsame uur die eerste woord van ‘n vers in ons opstaan en van ons uitgaan.”

    So, so waar: Nog ‘n rede vir elke dag LEEF – dat jy daaroor kan praat ek skryf.

  3. “Dit is ook nie genoeg dat ‘n mens die herinneringe het nie. Eers wanneer die herinneringe bloed word in ons, in die uitdrukking van ons oë, nameloos en nie meer te onderskei van onsself nie – eers dán kan dit gebeur dat in ‘n seer seldsame uur die eerste woord van ‘n vers in ons opstaan en van ons uitgaan.”

    Is dan ook die deel wat vir my soos demoerin getref het. Die ervaring gee insig, en eers dan kan jy opinie daaroor lig. Mooi geskryf sonkind, ek het lekker gelees. Dankie.

  4. Het hom ook! Liezel het vir my verjaarsdag dit gekoop! Dis mooi-mooi. Ek is besig om haar bundels bymekaar te maak.

    Het jy al P.H. Nortje se bundels gelees soos Op die Sonpad en Nuut onder die Son?

    Hy beskryf sy en sy gesin se ervarings ongelooflik!!!!

    Laat weet my of jy dit het. Ek het 2 kopieë – sal vir jou dit pos. Dis ‘n lang storie hoekom ek twee het!

  5. Pragtige aanhaling. Dankie dat jy hierdie boek onder ons oe bring.

Lewer kommentaar