Ander se Gedigte

woorde huil soms – (Jak de Priester)

lang trane van die hart.

woorde huil soms
op papier, brûe, kitare, rots en kots,
asyn in die wonde,
ingesmeer, geslaan, gemartel in die weeshuis van die hart.

woorde huil soms
tot die siel skil-verdroog raak van “traak-my-nie-meer-nie”
‘n uitgespoelde vis, uitgedroogde oë,

woorde huil soms
tot die seisoen verander,
woorde huil soms
tot die fetus vorm kry
woorde huil soms
tot die roof verdwyn in wit heilige skil-vers.

woorde huil soms
tot alles heel raak,
tot alles nuut raak
tot
jy
weer mens raak.

***********************

Waarom Straat (Karen Beytell)

Ek vind myself soms wandel, op ‘n ou bekende pad.
Die straat se naam is Waarom,
op die doodloopstraat Vir Wat.

Dan vra ek goed soos hoekom,
hoekom nou juis ek?
Wat gaan ek ooit bereik,
behalwe daardie ses voet onder plek.

En na 70 jaar van harde werk, my prys…gryshare
gebreekte skarniere en geheue verlies van my vroeë jare.
En toe ek so eendag wandel, kom ‘n gawe man nader,
met klomp van daai sakkies wat ons as kinders kon vergader.

Daar was sakke vol ‘geluk’ en tasse vol ‘vreugde’,
eienaardig genoeg daar was geen ‘teleurstel’ of ‘vrese’.
Op sy gesig, ‘n glimlag wat spontaan ontwaak.
En wonder ek in stilte wat hy met als wil maak.

Die man het geen rykdom – die sien ek aan sy drag,
maar sy breë glimlag, ‘n oase van sy mag.
En so uit die bloute sê die ou: jy mag ook maar kry,
siende hoe meer ek gee… sewe maal kry ek altyd weer.

En vir daardie straat is ek dankbaar, my antwoord is ontdek.
Soms wandel ons in strate, op ons eie verdwaalde plek.
Maar dis in hierdie strate wat ek vind, ek myself weer ontdek.
En my vreugde en vervulling is om ook weer te gee,
want in gee vind ek ook my vreugde elke keer weer en weer.

***********************

Jy en ek (Boompie)

Jy is jy en ek is ek
en jy bly vir my jy en ek bly vir jou jy
en ek en jy loer vir mekaar en voel aan mekaar en glimlag groot
totdat ons agterkom dat jy die leemte in ek volmaak
en ek die leemte in jy

Skielik word jy deel van ek en ek deel van jy
ek is joune en jy is ek s’n
en dan ons

Ons raak verweef en verstrengel
totdat ons agterkom dat nabyheid grense vereis.

Ons word weer ek en jy

maar verlang terug na ‘n tyd van eenwording
waar ek en jy ons uitmaak sonder om ons name te verloor

en yster het yster geslyp.

***********************

‘n Ander se woorde (Aurora)

‘n ander se woorde
in pas met my hart se akkoorde
jou vingers oor wit en swart noot
laat emosie, verborge, weer in my opstoot

ek lees jou refrein
deur newels van pyn
‘n spieel voor my siel gehou
herkenning in my hart toegevou

is dit bloot universeel
om die seer te wil heel
of ‘n groter mag
waarop mens altyd maar wag?

gebondenheid groei
as ons harte saam bloei
maar dis slegs maar jou ink
wat ons siele saam bind

***********************

Een keer in ‘n leeftyd (Deon Opperman)

Wat is liefde, hoe weet jy dit is waar?

Is dit iets wat jy versigtig soos geld kan spaar?

Pluk dit aan jou hart soos druppels aan ‘n blaar?

Soos wind aan ‘n spinnerak, soos vingers aan ‘n snaar?

Wat is liefde en kan jy daarteen stry?

Is dit iets wat jou verslaaf, of iets wat jou bevry?

Sal dit jou die pad wys, of sal dit jou mislei?

Sal dit soos die mis kwyn, of sal dit ewig bly?

Jy vra my wat is liefde, dis die soetste, soetste seer,

dis wanhoop en verwarring en ‘n duisend dinge meer.

Dis lenteson, dis wintersneeu en somerdonderweer,

dis alles wat jou hart soek en niks wat hy kan keer.

Die digters sê dis waansin, sonder rede, sonder hoop,

‘n pad wat selfs ‘n engel sal huiwer om te loop,

‘n dorsmasjien waar duiwels ‘n mens se siel klaar stroop,

die duurste ding wat man en vrou met murg en bloed

kan koop…

Die liefde is nie ‘n maklike pad nie.

Jy moet sterk wees daarvoor.

En sag.

***********************

Ek soek jou (Floris A Brown)

ek soek jou
in die glans van ‘n dubbel reënboog na reën

ek soek jou
in geskarrel van die rysmier voor die storm

ek soek jou
in die warreldraai van herfsblare in die wind

ek soek jou
tussen feetjies wat slegs in kleuterverse dans

ek soek jou
in klokkies wat hoog hang aan ‘n silwer maan

ek soek jou
in groen – neon – skyn op middernagbranders

as ek my plaashek mismoedig agter my trek
kom jou brief aangevlieg, in ‘n swartkraai se bek

***********************

Man van kleur (Shawn Thompson)

Niemand hoor en niemand sien, ek waai en skreeu so hard ek wil.

Maar met my bruin vel en my taal bly ek tog so invisible.

Ek issie swart, ek issie wit, so inbetween net neergegooi.

Sonder naam en sonder land – ‘n hotnot, coloured, of lately sommer koi.

Dis mos nou fashion om swart te wees,

hoe donkerder hoe beter, with no lighter shade.

Maar ek is uitgelos uit die victory march -

my gat nie swart genoeg vir die parade.

Die boer met sy kla oor ‘n eie volk,

die ingelse se high and mighty hoity doi,

vir hulle bly my vrou ‘n meid, en ek maar net ‘n boy.

Maar my bloed is gemeng hier in Afrika,

my vel die kleur van Kalahari grond -

my trots so hoog soos Tafelberg,

en die mooiste taal rol in my mond.

Dis al praat wat my siel nou ken,

‘n Afrika-taal soos geen anner.

Nou vra ek jou, met geen hoogmoed -

wie is dan die regte Afrikaner?

***********************

Dink jy ook soms? (Muggie)

Dink jy ook soms aan my as
jy op Tafelberg staan en
uitkyk oor die see?
Dink jy ook soms aan my
al loop ons nou aparte weë?

Verlang jy ook soms na my
as jy op die strand loop
en skulpe soek?
Verlang jy ook soms na my
al is ek nou ‘n geslote boek?

Wonder jy ook soms oor my
as jy sommer net
na nêrens loop?
Wonder jy ook soms oor my
al is daar vir ons nou niks hoop?

***********************

Sprokie vir ‘n Stadskind (Karen van der Vyver)

eendag lank, lank gelede

wag nee, dit was nou die dag

het Gouelokkies haar hare gedye

en Sneeuwitjie se geheim

aan die duiwel verraai

die drie varkies is almal geslag

en Rooikappie het vir die bloed gelag

Aspoestertjie het haar lyf aan ‘n pimp verkoop

en die lekkergoedhuisie het die regering gesloop

‘n Happy Ending het soos die osoon verdwyn

God, waar is U?

my kind is nog klein

***********************

The Tenant (Na Ncube)

There is no room for you

in my heart. The only tenant

who ever lived there left

some luggage behind.

I didn’t evict him. He

simply left without a word.

I keep hoping he will come

back and collect the luggage

or at least arrange for disposal

clean out the place, throw out

old memories.

I could possibly live with

the marks on the wall. Some

are completely indelible

some I even like

But you see I am afraid

if it all goes, what will I do

with all that empty space?

***********************

Kontras (Karen van der Vyver)

hulle sê Birds of a feather flock together

maar hoekom

is daar precious poets tusssen plakkers,

hobos in high society clubs

en straatslette in ‘n rykman se bed?

môre sit sy vrou

met vigs besmet?

Birds of a feather se gat

dink ek,

tussen mense met monde

sit ek met ‘n bek.

***********************

Sinsverwarring (Daniel Hugo)

hoe sal ons die spel weer begin

nadat ons die reëls verbreek het

ná skeldwoorde hul gewreek het

op die dubbele omhelsing?

ons noem die liefde graag ‘n spel

so is dit ook gesteld met skryf;

vuriglik bly dit ons bedryf

al maak dit ons bestaan ‘n hel

jy bring my pen in verwarring

met die mate van jou lede

ongerymd maak jy die hede

en tog: by jou soek ek my sin

kom, ons speel dit is ‘n sonnet

wat ten laaste ‘n wending het

***********************

Op alle gesigte (Ingrid Jonker)

Op alle gesigte van alle mense

altyd jou oë die twee broers

die gebeurtenis van jou en die onwerklikheid

van die wêreld

Alle geluide herhaal jou naam

alle geboue dink dit en die plakkate die tikmasjiene raai dit en die sirenes eggo dit

elke geboortekreet bevestig dit en die verwerping

van die wêreld

My dae soek na die voertuig van jou liggaam

my dae soek na die gestalte van jou naam

altyd voor my in die pad van my oë

en my enigste vrees is besinning

wat jou bloed wil verander in water

wat jou naam wil verander in ‘n nommer

en jou oë ontsê soos ‘n herinnering

***********************

En toe jy (Braam Smit)

vir Annemarie

Gekapte wolke knaag

deur die dik koue lug

aan’t flarde woorde val

in ‘n stormsee terug

daar’s ‘n vrou wat stukkend lê

iewers anderkant ‘n brug

(ek moet alweer ‘n nommer

van my selfoon afvee)

en daar’s wolke wat knaag

aan die koue dik lug.

***********************

Skryf (Angie Kleijn)

Ek het myself uit die dood uitgeskryf,

stukke siel aan die papier afgevryf

met ‘n pen; riffels gemaak met ‘n grou griffel

om my eie hart weer op te wen;

krummels gesaai met lettergrepe

as roetewyser om terug te kan draai soos Hansel en Gretel.

Ek’t ‘n pad gebou met my graadeen-juffrou se abc

om my aan myself terug te gee.

Bladsy na bladsy probeer ek myself raakskryf

en versigtig terugdruk in my eie lyf.

***********************

Uitsigloos (Erns Grundling)

ek het ‘n appeltjie te skil met die son

wil vir hom ogies maak en nie wegdeins

as my sig langsamerhand verduister nie

noodgedwonge sal ek ‘n gidshond touwys

moet maak as voetoorgange my kierang

of blindelings bandopnames van bestsellers beluister

want om net na jou te mag kyk

sonder die opsie van aanraking

is soos om braille op ‘n afstand te lees.

***********************

Bedrewenheid (Ronelda S Kamfer)

soms vra ‘n mens vrae – dan weet jy vooraf wat die antwoord is

soms wag ‘n mens vir iemand – wat jy weet nooit sal kom nie

soms sê ‘n mens totsiens – al haat jy die woord

soms aanvaar jy dinge soos dit is – al weet jy dat jy dit kan verander

soms twyfel jy oor jouself – al weet jy waartoe jy in staat is

soms is wat jy het nie genoeg nie – maar soms vra jy nie vir meer nie

***********************

Getsemane (Angie Kleijn)

Die vrou wat ek nie is nie

wag vir my, wind-af wag sy,

sku in die skadu van ‘n sambreeldoringboom,

skraap sy met haar groottoon

in die stof.

En ek hoef nie te kyk nie want ek weet,

onthou die naaimasjien, die trapvoet

se plief-plif-plof.

Staan stil; die spelde steek, vlek bloed.

Maatband, mousgate, op met die arm dat ma kan sien.

Die kind wat ek nie was nie

wag vir my, wind-af wag sy

met ‘n weerhaan aan ‘n leiband,

met ‘n rokspant, pylnate, bice binding,

knoopsgate.

Kan jy haar nie sien nie?

Sy wag in die tuin

vir haar haan om drie keer te kraai

sodat ek haar nog een keer

kan verraai.

Een Reaksie

  1. Reizigers en ander skryf entoesiaste,

    19 April 2010

    Die eerste keer wat die Reizigers die e-pos kanale gesien het was die 12de Maart 2008.

    In 2008 het daar min of meer tien uitgawes uitgegaan, waarna ek weens persoonlike redes ʼn jaar afgevat het. In 2010 Maart is die Reizigers weer hervat en het ons ʼn hele paar nuwe digters uit die uithoeke van Suid-Afrika en selfs Namibië bygekry.

    Organisasie soos die Bloemfonteinse Skrywers Vereniging, Woordgilde, Woordlikeur, Kakkerlak, GHA, Bent Uitgewers en die lede van die Pierneefteater) het baie gehelp om die Reizigers te kry tot waar dit vandag is. Namens die hele Reizigers gemeenskap sal ek graag wil dankie sê vir die hulp.

    Om dit meer toeganklik te maak vir alle digters is daar nie ledegeld wat betaalbaar vir die Reizigers nie.

    My visie vir die Reizigers is om digters uit alle uithoeke van Suid-Afrika sowel as Namibië te kry om die Reizigers te ondersteun.

    Alle digters, gepubliseerd of ongepubliseer is welkom om hul gedigte in te stuur. Die reëls verbonde aan die gedigte wat ingestuur is, is as volg:
    - gedigte moet in Afrikaans wees
    - jou naam en van onderaan die gedig of skuilnaam indien so verkies word
    - Arial 10, “Spell Check” moet gedoen wees

    As jy enige probleme ondervind met die skryf van ʼn gedig, is jy meer as welkom om dit aan my te e-pos. Ek sal my allerbeste probeer om daarmee te help en as ek nie kan nie sal ek dit aan iemand stuur wat ek weet sal kan help.

    Elke maand stuur ek ʼn digters profiel saam met die Reizigers uit, dus sal ek dit waardeer as jul, jul profiele aan my stuur.

    Gedigte, profiele, terugvoer, sketse en sowel as kort-kort verhale kan gestuur word na die.reizigers@gmail.com. Ek kan ook gekontak word by 076 017 6453.

    Lekker dig,
    Martie Janse van Rensburg

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.